Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van SA (Okosa) registreer klagte na uitfasering van RSG-nuusbesprekingsprogram

Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van SA (Okosa) registreer klagte na uitfasering van RSG-nuusbesprekingsprogram

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het die VF Plus vandag in kennis gestel dat ʼn klagte van die party teen die uitfasering van ʼn RSG-nuusbesprekingsprogram by die liggaam geregistreer is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Die betrokke program is die gewilde “Kommentaar” wat op Sondagaande uitgesaai is. Die uitfasering daarvan is glo deel van ʼn proses om ou programme met nuwes te vervang.

Adv. Alberts sê die VF Plus is van mening dat die SAUK met dié optrede sy lisensievoorwaardes en redaksionele beleid oortree aangesien die beleid bepaal dat die uitsaaier ten alle tye billikheid, onpartydigheid en balans moet nastreef en dat ʼn wye verskeidenheid standpunte geakkommodeer moet word.

“Die VF Plus verwelkom die feit dat Okosa so vinnig op die klagte reageer en vra nou dat dit vinnig en deeglik ondersoek sal word en dat stappe sonder verwyl geneem sal word om dié onbillike opdrag van die SAUK-bestuur tersyde te stel,” sê adv. Alberts.